rick.muselaers
REVIEWS .
'Requiem' is inklusiewe, aangrijpende komposisie (african)
Deur Hannes Kruger 5 September 2016
Requiem for the Living
Linder-ouditorium, Johannesburg
Requiem for the Living, wat verlede naweek in Johannesburg gedebuteer het, kan beskryf word as ’n inklusiewe en aangrypende komposisie wat met verbysterende estetiese elemente verweef is.
Die komponis Rexleigh Bunyard het met haar komposisie ongetwyfeld daarin geslaag om die siel diep te sny met ’n tema wat diverse kwessies pak, soos die heling van jou wonde
en beperkinge om jou deernis en ontferming teenoor die mensdom uit te leef.
Dit was ’n omvattende produksie met baie musici op die verhoog wat baie kophou geverg het om dit nie in ’n poespas te laat ontaard nie.
Rick Muselaers, die Nederlandse dirigent, het ondanks onsekerhede hier en daar gesorg dat die uitvoering in die geheel knap en suiwer is.
Die uitrustings, die vier kunswerke agter teen die verhoogmuur, die omvattende orkestrasie en die diverse kulturele agtergronde van die musici was die eerste aanduiding dat dié komposisie nie ’n tradisionele en konvensionele requiem gaan wees nie.
Waar Guisseppe Verdi se requiem met die Libera me-beweging eindig, het Bunyard se Requiem for the
Living daarmee begin, wat die bevryding van die mensdom se beperkinge bepleit het.
Van die hoogtepunte was die “Dies irae” en die Sanctus 1-In Paradisum-Sanctus 2.
Sekere stylelemente van Mozart se “Dies irae” het sterk met vulkaniese kragtigheid deurgeskemer wat verder met die uiteenvloeiing van toonkleur versterk is. Die wraaksugtige aspek van die tema is in die “Dies irae” duidelik onderstreep om die mensdom se voortslepende innerlike geveg met woede en wanhopigheid uit te beeld.
Die Sanctus 1-In Paradisum-Sanctus 2 was magies.
Die pryssangers van verskeie nasionaliteite wat die psalmtekste in verskeie Suid-Afrikaanse tale, Hebreeus en Zoeloe uitgevoer het, het die inklusiwiteit van die komposisie en universaliteit van die mensdom se probleme ten toon gestel.
Die orkes se herhalende melodiese motief in dié beweging suggereer ’n bonatuurlike atmosfeer wat kruipende en vlieënde kreature uitbeeld.
Die mezzosopraan Claudia Pike verdien ’n klop op die skouer vir haar veerkragtige uitvoering. Die tegniese uitdagendheid en atonale kontoerlyne kry haar nie onder nie.
Die stem van die belowende bariton Bernard Boekkooi (19) is net-net te jonk om die diepte wat die komposisie verlang uit te beeld.
Die orkes, die Horizons Project-koor van Pretoria en die koor van Gauteng Opera het ’n goeie begrip vir die styl van die komposisie
en die werk word met ’n gevestigde klankproduksie uitgevoer.
In die geheel sorg Requiem for the Living se diversiteit in kleur, orkestrasie, dinamiek, melodiese en harmoniese kontraste dat jy weggevoer word van waar jy is, na ’n diep en donker gat geneem word en weer daar uitgehelp word om jou die lig te laat sien.
Kragtige ‘La traviata’ ’n triomf (african)
Deur Paul Boekkooi 9 Junie 2015
La traviata – Gauteng Opera
Wits-Grootsaal, Braamfontein
In ware kunsbeoefening behoort absoluut niks ooit as synde vanselfsprekend na vore te kom nie. Dit verg oortuigende, gefokuste insette en massas oorgawe om ’n meesterwerk soos Verdi se La traviata in al sy fasette oor te dra.
Wat Gauteng Opera (GO) ons Saterdagaand laat beleef het, was uiters kragtig.
Dié opera is oorbekend, sy melodieë so ingegrif in elke sanger of musikus se verwysingsveld dat dit moeilik is om terug te staan en dit opnuut te takseer. Maar om die een of ander rede rondom sinergie het alles by dié konsertweergawe saamgewerk: Verdi se tegniese meesterskap, skerpte, menslikheid, sy psigologiese insae, asook sy onfeilbare smaak.
Spanwerk was die grondslag van GO se sukses. Die kern daarvan het voortgevloei uit die musikaal wydlopende aandeel van die dirigent Arjan Tien.
Hy was gepas uiters ekstrovert in die feestelike tonele, maar het die leisels sterk ingehou waar dit die werklike drama betref. In die twee voorspele, skitterend ingetoë maar tog ook kragtig, openbaar hy dat die emosionele gravitas van die verhaal sy aandag nooit ontglip nie.
Tien het duidelik sy raap en skraap-orkes baie gou omskep in iets wat geheg en resonant geklink het. Daarin is hy ook ondersteun deur die GO-koor wat deeglik voorberei is deur die koormeester Rick Muselaers. In sy hande het byvoorbeeld die sigeuner- en matador-kore aan die begin van Bedryf II, Toneel 3 ’n grondige dramatiese doel gedien.
Marcus Desando het alles verder verlewendig deur sy minimalistiese maar uiters treffende regie rondom interpersoonlike kommunikasie tussen die karakters wat deur die sangers lewend gemaak is. Geyktheid is vermy. Deur slegs ’n klein loopplankverhogie links van die orkes op te rig en die karakters te laat kom en gaan, is ’n onpersoonlike aard wat maklik kon inkruip vervang deur emosionele diepte.
Sonder die sangers se topprestasies, sou min binne die geheel só intens meevoerend kon wees.
Dit vereis ’n moedige sopraan om Violetta totaal afgerond uit te beeld. Die eise wat in Bedryf I gestel word, is totaal anders as dié in II en III. Bronwen Forbay se musikale voorstelling omvou alle vereistes – van hoë koloratuur tot by swaar dramaties.
Haar interpretasie was grandioos, vol uitdrukkingskrag, met ’n afwisselende timbrespektrum. Daarteenoor tel ’n enkele moeisame topnoot niks. Wat wél geld, is dat ’n mens jou in die karakter kon inleef – selfs in die moment teen die einde wanneer sy uiters elegant ineenstort en sterf.
Phenye Modiane se Alfredo was duidelik dié van ’n jong man. Hy het ’n jeugdige klankpalet, klink romanties, maar enkele kere ietwat te oordramaties wat nie regtig pas by die skugter jong digter nie. Aubrey Lodewyk as sy pa, Germont, was skitterend – veral in Bedryf II teenoor Forbay. Die oorblywende sangers het bewys dat klein rolle by Verdi skaars bestaan.